Moreleta Kerk
Welkom by die Moreleta Kerk Podcast — ’n plek waar geloof, lewe en stories mekaar ontmoet. Elke episode neem ons jou dieper in die Woord in, deel ons eerlike gesprekke oor die lewe, en help ons jou om Jesus in jou alledaagse wêreld raak te sien. Of jy op pad is, by die huis sit of net ’n oomblik van stilte het — hierdie is vir jou. Kom groei saam met ons in geloof, hoop en liefde.
Listen on:
Episodes

Aug 20, 2026
Aug 20, 2026
35 min
In Episode 7 kyk ons na Die Doel van die Verhaal. Die Bybel begin in ’n tuin in Genesis en eindig in ’n tuinstad in Openbaring. Hierdie beweging wys vir ons dat God se plan nog altyd op herstel, verlossing en nuwe lewe gerig was. Die Nuwe Skepping is nie ’n noodplan omdat die eerste skepping misluk het nie; dit is die voltooide doel van God se missie.
In Openbaring 21 sien ons die asemrowende prentjie van die hemel wat na die aarde neerdaal en God wat by sy mense kom woon. Die nuwe skepping beteken nie dat God alles weggooi en van vooraf begin nie. Soos Jesus se opstandingsliggaam herkenbaar was maar tog verheerlik, sal God hierdie wêreld bevry, herstel en nuut maak.
Saam ontdek ons dat ons hoop as gelowiges nie is om die aarde te ontsnap nie, maar om uit te sien na die dag wanneer God sy koninkryk volkome hier vestig en alles nuut maak. Hierdie waarheid verander hoe ons na die wêreld, ons werk, ons verhoudings en ons toekoms kyk.
Skakel in terwyl ons die laaste hoofstuk van Die Groter Prentjie ontdek en nadink oor die vraag: Hoe verander dit my perspektief op die wêreld as ek weet God gaan dit nie vernietig nie, maar herstel?

Aug 18, 2026
Aug 18, 2026
38 min
In Episode 6 staan ons stil by God se regverdige oordeel. Oordeel is nie bloot ’n dreigement nie, maar die koms van God se volmaakte geregtigheid — die dag wanneer Hy finaal met alle onreg sal afreken en alles sal regstel.
Die wonderlike waarheid van die evangelie is dat God hierdie oordeel aan Jesus Christus toevertrou het. Hy is die Regter omdat Hy mens geword het, ons gebrokenheid ken en ons toestand ten volle verstaan. Vir baie mense klink die idee van oordeel vreesaanjaend, maar vir die gelowige is dit ook ’n bron van hoop: die bevestiging dat God se geregtigheid uiteindelik sal seëvier en dat onreg nie die laaste woord sal hê nie.
Saam ontdek ons hoe God se oordeel en God se liefde nie teenoor mekaar staan nie. Die Een wat oordeel, is dieselfde Een wat sy lewe vir ons gegee het. Daarom kan ons met eerbied én vertroue voor Hom leef, wetende dat sy oordeel finaal, regverdig en volmaak is.
Skakel in terwyl ons nadink oor vrae wat elke mens raak: Is ek bang vir die finale oordeelsdag? Vertrou ek dat Jesus se verlossing genoeg is? Hierdie episode nooi jou om met eerlikheid, hoop en geloof na God se groter prentjie van geregtigheid en genade te kyk.

Aug 13, 2026
Aug 13, 2026
29 min
In Episode 5 kyk ons na “Gaan na die nasies” – Jesus se sendingopdrag aan sy Kerk.
Ná sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels en gee Hy vir die eerste keer ’n duidelike prentjie van hoe sy koninkryk deur die wêreld versprei sou word.
In Lukas 24:44–49 bevestig Jesus drie belangrike waarhede: alles verloop steeds volgens God se plan, die evangelie moet aan al die nasies verkondig word, en die Heilige Gees sal sy dissipels toerus om hierdie roeping uit te leef.
Saam ontdek ons dat die sending van God nie net vir die eerste dissipels bedoel was nie. Elke gelowige word geroep om ’n getuie van Jesus te wees en die goeie nuus van bekering en vergifnis van sondes met die wêreld te deel. Die feit dat ons vandag die Bybel in Afrikaans kan lees, herinner ons daaraan dat vorige geslagte hierdie opdrag ernstig opgeneem het en groot opofferings gemaak het sodat die evangelie die nasies kon bereik.
Skakel in terwyl ons ontdek hoe Jesus sy Kerk uitstuur om deel te wees van God se groter prentjie vir die wêreld — en waarom ons hierdie roeping nie in ons eie krag hoef te dra nie, maar in die krag van die Heilige Gees.

Aug 12, 2026
Aug 12, 2026
37 min
In Episode 4 vra ons die belangrike vraag: Wat is die evangelie?
In 1 Korintiërs 15:1–4 kry ons een van die duidelikste opsommings van die evangelie:
Christus het vir ons sondes gesterf, Hy is begrawe en op die derde dag opgewek. Die woord evangelie beteken letterlik “goeie nuus”, maar hierdie goeie nuus kry eers sy volle betekenis wanneer ons verstaan waarvan ons gered moet word. Die evangelie is nie bloot die boodskap dat God ons liefhet nie. Dit is die wonderlike waarheid dat God self ’n pad gemaak het vir verlore mense om weer met Hom versoen te word — om deel te kry aan sy nuutmaak, herstel en heelmaak. Saam ontdek ons dat die evangelie nie by mense begin nie, maar by God se hart.
Dit is sy plan, sy inisiatief en sy genade. Ons kan dit nie verdien of self regkry nie; ons kan dit net in geloof ontvang.
Skakel in terwyl ons die kern van die Christelike geloof ontdek en sien hoe die evangelie die grootste goeie nuus van die groter prentjie is.

Jul 29, 2026
Jul 29, 2026
29 min
Welkom by Die Groter Prentjie – 'n podcast waar ons die Bybel se groot verhaal ontdek en leer hoe dit ons alledaagse lewe vorm.
In Episode 3 kyk ons na God se verbond met Abraham – 'n ontmoeting wat die rigting van die hele Bybelse verhaal verander het. In Genesis 12 roep God vir Abram om sy bekende wêreld te verlaat en gee Hy drie groot beloftes: 'n groot nageslag, 'n land vir sy mense, en die grootste belofte van almal – dat al die nasies van die aarde deur hom geseën sou word.
Saam ontdek ons dat God se plan nog nooit net oor een familie of een volk gegaan het nie. Israel was geroep om die instrument te wees waardeur God sy seën na die hele wêreld sou bring – 'n belofte wat uiteindelik vervul word in Jesus Christus.
Skakel in terwyl ons ontdek hoe God se roeping van Abraham deel vorm van die groter prentjie van verlossing vir elke mens, elke volk en elke nasie.

Jul 22, 2026
Jul 22, 2026
52 min
In Episode 2 gesels ons oor Die Sondeval. Genesis 3 vertel nie die verhaal van 'n ongeluk wat die wêreld skielik verander het nie, maar van 'n doelbewuste keuse om teen God te rebelleer. Die sondeval was die gevolg van die mens se ongehoorsaamheid, en die impak daarvan word steeds vandag in 'n gebroke wêreld gesien.
Saam ontdek ons wat werklik in die tuin van Eden gebeur het, waarom hierdie gebeurtenis so 'n keerpunt in die Bybel se verhaal is, en hoe dit die groter prentjie van God se verlossingsplan begin ontvou.
Luister saam terwyl ons die oorsprong van sonde, die gevolge daarvan en God se hart vir die mens beter leer verstaan.

Jul 9, 2026
Jul 9, 2026
40 min
In Episode 1 begin ons by die heel begin: Skepping. Saam kyk ons na Genesis 1 en ontdek wat dit beteken dat God die Skepper is wat deur Sy woord alles tot stand gebring het. Ons gesels oor die betekenis van die skeppingsverhaal, hoe ons as mense na God se beeld geskep is, en waarom ons woorde steeds vandag saak maak.
Al kan ons nie skep soos God skep nie, dra ons woorde steeds die vermoë om op te bou of af te breek, hoop te bring of seer te maak. Wat beteken dit om ons woorde op 'n manier te gebruik wat God eer?
Skakel in vir die eerste episode van Die Groter Prentjie en ontdek hoe die begin van die Bybel die begin van jou eie storie help verduidelik.

May 27, 2026
May 27, 2026
34 min
Teodor gesels met Pieter Wessels oor sy journey – van die droom om ’n pro golfer te word tot hoe hy sy roeping ontdek het.
Hulle raak aan diep temas soos gehoorsaamheid, kerkplanting en sending – en wat dit regtig beteken om te sê “Here, gebruik my.”

May 27, 2026
May 27, 2026
34 min
In Episode 4 van die InWording Podcast gesels Teodor met Francis Coertzen.
Francis is die geestelikeleier van die senior jeug by Moreleta Kerk. In hierdie episode deel sy haar storie – van haar ouers se egskeiding en hoe sy haar roeping ontdek het, tot haar universiteitslewe en die besluit wat sy en haar man geneem het om nie kinders te hê nie.

May 27, 2026
May 27, 2026
35 min
In hierdie week se episode van die InWording Podcast gesels Teodor met PC Pretorius. Hulle delf in PC se storie—’n verhaal wat al begin het nog vóór sy geboorte—die diep invloed van sy oupa, en die pad van amper opskop na roeping en leierskap.


